Mimetes Park
Mimetes-park by die oostelike ingang van die dorp is ‘n KNSC-projek. Die park is tussen Hoofweg en Amandelboomlaan en is ook via ‘n tonnel onder Hoofweg met die strandmeer en hoofstrand verbind.
Die park is in die 1990’s deur Elsje Bosman begin ter nagedagtenis aan haar seun Stompie, wat op ‘n vroeë ouderdom oorlede is. Elsje was die voorsitter van die Kleinmond Tuinmaakklub en die munisipaliteit het die klub toestemming gegee om die gebied as ‘n park te gebruik. Die park is Mimetes Park genoem ter ere van haar seun en talle plante van die spesie Mimetes cucullatus (of rooistompie) is daar geplant.
Toe die tuinmaakklub ophou funksioneer het, het die park in onbruik verval.
Uiteindelik het ‘n kenner van plante wat endemies aan die streek is, die vele spesies opgemerk wat daar groei ten spyte van al die uitheemse plante wat ook hul vestiging geneem het, en dit is hoe KNCS betrokke geraak het by die herstel van die park en die herwildering van die vleilandgedeelte van die park.
Die werk word deur vrywilligers onder leiding van Magdaleen Brits gedoen. KNCS borg ‘n span van Vicky Kotze se BBB-tuine om een keer per maand daar te werk en OM ondersteun hierdie poging en help waar hulle kan.
Die oostelike deel van die park het ruim skenkings van plante en bankies ontvang en is besig om ‘n lieflike plek te word vir ‘n ruskans of ‘n stappie.
Die indringerplante in die westelike deel van die park is meestal verwyder en paadjies is uitgelê. Verskeie endemiese plante is in die proses ontdek. Die vleilandgebied word aangemoedig om weer te verwilder soos endemiese plante óf geplant word óf spontaan daar begin groei.