Ons Storie

HOE HET DIE NATUURBEWARINGSVERENIGING VAN KLEINMOND ONTSTAAN?

Op 7 Oktober 1975 is ‘n openbare vergadering, byeengeroep deur die Rapportryers van Kleinmond, in die Munisipale Saal gehou om natuurbewaring te bevorder.

Dr. Douglas Hey, die Provinsiale Direkteur van Natuurbewaring in die Kaap, was die gasspreker. Ongeveer 100 persone uit die plaaslike gemeenskap het die vergadering bygewoon. Die idee om ‘n natuurbewaringsvereniging in Kleinmond te stig, het algemene aanklank gevind en die vergadering, onder leiding van JNF O’Kennedy, het eenparig besluit dat so ‘n natuurbewaringsvereniging gestig word, en dat tien persone genomineer word om die stigting te bevorder.

Hierna is die stigtingsvergadering van die Natuurbewaring- en Museumvereniging op 22 Oktober 1975 in die Munisipale Saal gehou. By hierdie vergadering is die volgende komitee verkies:
Maj. JFC Prince – voorsitter, Prof. dr. FV Lategan – vise-voorsitter, Mnr. JJ du Plessis (stadsklerk) – waarnemende sekretaris. Bykomende lede: Eerw. DP Hammann, Mnre. G. Bailey, WJJ de Beer, W. Ebersohn, I. Loader, Mevre. E. Vlok, E. Schmidt, en Dr. Marie Vogts in adviserende hoedanigheid.

Tydens die besprekings word verwys na die unieke inheemse plantegroei wat in die Kleinmond-gebied voorkom, en dat dit uiters belangrik is om hierdie plantegroei te bewaar. Onder andere word ook opgemerk dat die Munisipaliteit besig is om ‘n gedeelte van die kusgebied as natuurreservaat te laat verklaar.

Terug na Oor Ons